My ma se hoenderpastei

23 May

Ons het almal al gehoor van Meraai se hoenderpaai. Tannie SJA van Kook en Geniet het ‘n heerlike hoenderpastei, en deesdae kraai Nigella, Gordon en wie weet  nog se paais koning op ons werf. Nie.een.kom.naby.my.ma.se.hoenderpaai.nie. Hare is die lekkerste in die ganse wêreld. Ja, ek hoor al hoe sê jy jou familie se hoenderpastei is die beste. Ek verstaan. Dit hoort so.aa Ma hoenderpastei NAWEEK  resized

Ma se hoenderpastei was my hele lewe lank die middelpunt van Sondae en spesiale dae. Dit was eers na haar 84ste verjaardag dat sy die maak van die hoenderpastei gedelegeer het en ’n ‘inkommer’-pastei na die tafel gebring het. Dié het nie gelyk of geproe soos hare nie en nie getroos soos hare nie.

Ek het net geweet die tyd het gekom dat ek haar vir die resep moet vra om dit self te begin maak. Self het sy dit nooit neergeskryf nie. “Ek weet mos hoe om dit te maak,” hoor ek haar sê.

Die betrokkenheid by Kokkedoor, die reeks oor onthoukos, het my diep bewus gemaak hoe belangrik die draers van familieresepte is. Seuns het die plaas of die draaibank gekry, dogters die resepte vir die  pastei, die melktert, die brood, konfyt en sagopoeding.

Nie net wou ek elke jota en tittel van Ma Inez se Hoenderpastei leer maak nie, maar dit as familie-nalatingskap aanteken.  So begin ons die afstandsonderrig. “Bel as jy vashaak, my kind.”

Die tyd het gekom om Ma Inez te vra hoe om haar hoenderpastei te maak.

Die tyd het gekom om Ma Inez te vra hoe om haar hoenderpastei te maak.

Nat King Cole sorg vir ma-musiek. Die hoender is in die pot. Heel. Ek vaar die speserykas in met my neus en herinneringe as kompas. Ma sou nooit aan ‘n hoender vat sonder om die naeltjies nader te trek nie. Minstens vyf. Paar korrels wonderpeper, vyf of ses koljanderkorrels, dieselfde met die peperkorrels. Genoeg sout.  Drie  lourierblare.

Jy kan nog die wonderpeper uitlos, maar nooit die asyn nie; twee eetlepels bruin asyn, wit asyn, wat ookal. Ma sou nie weet van gekruide of balsamiese asyn nie.  Als is saam met die hoender die pot in, saam met een groot ui, twee wortels - gekrap en bonkig gesny. Twee koppies water.

Uit pure gewoonte beland die laaste dreksels van ‘n bottel witwyn ook in die pot. Ma bevestig dis reg so, want die oumense het ook graag met wyn gekook. Nou’s dit die nuwe familietradisie, regverdig ek my inkleur buite die lyne, deur tiemie uit my tuin aan die pot te skenk.  ’n Paar blokkies gerookte spek kom ook by, alhoewel Ma het  nou en dan ham bygesit as daar ‘n stukkie oor was wat nie in haar souttert beland het nie.

aa hoender in pot resize vir blog IMG_1283

Die hoender vra vir s-a-g kook. Ons hoor skaars die prut, prut, prut, maar die geur van Ma Inez se pastei-in-wording weergalm deur die huis.  Die hoender kondig aan hy’s reg vir die pluis deur sommer vanself uitmekaar uit te begin val. Nou pluis jy. (Ek onthou ma se ‘sjoe, sjoe’ soos sy die nog-vuurwarm hoender pluis van haastigheid).  Beentjies eenkant, die pluisvleise in  die gechipte erdeskottel.

aa gevlokte hoender resize vir blog  IMG_1321

Ek bel vir Ma. “Wat van die hoendervelle?” “Dit kom in, mooi fyngemaak. En wees goed op die uitkyk vir klein beentjies en die naeltjies.” (Om op ’n naeltjie te byt  laat selfs die vroomstes onder ons innerlik swets aan die Sondagtafel.)

Die hemele sal jubel oor die prutsous wat in die pot agter gebly het. Ek gooi dit deur ‘n sif om die korrels speserye uit te vis. Die uie en wortelstukkies word gered en by die fyn hoender gesit. Die aftreksel hou ek eers eenkant, want ‘n soort-van witsous moet in die pot gemaak word. (Geen pakkie-soppoeier is welkom in hierdie heiligspot nie) Smelt  2 lepels  botter tot dit sis en roer dieselfde hoeveelheid koekmeel by en hou aan’t roer tot die storie glad en klontvry is. ’n Koppie en ‘n  half warm hoenderaftreksel kom by en word deurgekook tot die meel nie meer geproe kan word nie. Seker 3 minute.

Nou proe jy daai sous. Hy moet sy asyngeurtjie hê  en sout-en-peper is al afronding wat nou nodig is. Die naeltjies,  koljander en wonderpeper het klaar sy ding gedoen. Roer sous deur die gepluiste hoender, skep in die gesmeerde oondbak en troos jou, Pastei Paradys is nou skaars  ’n halfuur weg.

As jy die terapie van  skilferkors wil benut, is jy nou op jou eie. Ek koop myne. Met die gesousde fynvleis in die gesmeerde pasteibak, word die lig uitgerolde deeg bo-oor gesit (sonder om die deeg te rek) en die oorhang-stukke afgesny.

Ek versier die rand van my pastei met pennie-grootte deeg polkadots. Ma het net die deeg liggies met die vinger gedruk. Smeer bietjie water om die buiterand en pak die deegpolkas om die rand, effe oormekaar.  Die nuwe generasie se ander twist is om individuele pasteie in kleiner bakkies te maak as dit net ek en Ian aansit vir ete; anders maak ek dit in die familie-grootte oondbak soos ma. Die kleiner bakkies is prakties, maar het nie dieselfde gees van groothartigheid nie – om vir almal uit een bak te skep het ‘n dieper betekenis van deel.

IMG_7197 Small

(Van die orige deeg maak ek hartjies of ander versierings om apart te bak.)

Prik die deeg sodat die stoom kan ontsnap. Verf geklitse eier bo-oor vir mooi bruin glans.  Oond toe.

Die eerste 15 minute bak dit in ’n baie warm oond vir die deeg se onthalwe. Vir die hoender se onthalwe verminder ek die hitte na 180°C en bak nog 15 minute tot deurgebak en goudbruin.

Ma se pastei het altyd die tafel gedeel met ’n oordaad ander opskepskottels. Vir my is rys, ertjies en tamatieslaai met fyngekerfde uie en asynsousie genoeg.  Net een ding bly oor, om dit Ma Inez se Hoenderpastei te maak: om die seën daarop te vra. 

  • Dankie dat jy ingeloer het. Jy kan ook my kostwiets volg @huiskok of saamluister op RSG – Huiskok Glanskok op Vrydagoggend net na 9.15 vm, my kosstories in Beeld en Burger NAWEEK volg of laat sommer net ‘n boodskap op hierdie storie dan gesels ons so.

Brandewyn in die ryspoeding en in die glas

10 May

 O, brandewyn, bly by my,’ is die deuntjie wat ywerige kokke neurie as die goue vog sy geurgeheime vrystel in die kombuis. Die aromas van brandewyn is meer verleidend as die duurste parfuum –  van blom- en vrugtegeure, tot die warm, diep skakerings van vanielje, sjokolade, sederhout en mokka.

Ou Kaapse brandewynpoeding nuutgeskep deur Richard Carstens (Tokara) saam met potketel brandewyn. Foto: Samarie Smith

Ou Kaapse brandewynpoeding nuutgeskep deur Richard Carstens (Tokara) saam met potketel brandewyn. Foto: Samarie Smith

Dis ‘n opwindende tyd vir brandewyn. Ek het die afgelope jare as skakelraadgewer vir die SA Brandewynstigting ontsettend waardering gekry vir die mense wat brandewyn maak en hul passie en kundigheid wat in die elikser ingaan. Dis wonderlik dat Suid-Afrikaanse brandewyne in die kollig geplaas by die Fine Brandy Fusion in Kaapstad (volgende maand in Sandton). Proe daar wêreldbekroonde potketelbrandewyne tot byderwetse brandewyn-skemerkelkies.

Brandewyn, ons goue ikoon.

Brandewyn, ons goue ikoon.

Maar voor ek verder van brandewyn vertel (heerlike verhaal oor ‘n kok wat brandewyn gestook het in die Kaapse hawe) – eers ’n poedingresep. Die lewe is immers onvoorspelbaar so jy eet maar liefs jou poeding eerste. Dan gaan ons aan met die wonderlike verhaal van brandewyn

08 Nic Risotto resized

Hierdie heerlike oud-en-nuut brandewynryspoeding van Nic van Wyk uit die boek Fire Water is heerlik. Die foto is deur Craig Fraser van Quivertree.

BRANDEWYN RYSPOEDING MET JONG EN OU DRUIWE

Die resep is deur Nic van Wyk van Diemersdal, Kokkedoor-beoordelaar en Brandewyn Gildelid. ‘n uithaler-idee van ‘n uithaler-sjef. Nic span vars druiwe en rosyntjies in om die edele proses van brandewyn-veroudering pittig voor te stel. 

Genoeg vir 4 mense

200 g pitlose rosyne

145 ml brandewyn

300 ml room

300 ml melk

1 vanieljeboontjie of 5 ml vanieljegeursel

150 g arborio rys

300 ml strooisuiker

6 eiergele

15 ml botter

200 g vars pitlose druiwe, gehalveer

 Metode

Week die rosyne oornag in 100 ml van die brandewyn.

Verhit die room, melk, vanieljeboontjie of vanielje in ‘n kastrol en bring dit tot kookpunt. As ‘n vanieljeboontjie gebruik word verwyder dit van die hitte, laat dit 15 minute staan en verwyder dan die boontjie. Andersins kan die rys dadelik by die melkmengsel geroer word. Prut dan oor lae hitte totdat amper al die vloeistof geabsorbeer is. Klits 240 ml van die strooisuiker en die eiegele tot romerig. Vou die eiermengsel by die rysmengsel en prut 5 minute tot die mengsel glad en blink is. Verhit die botter en die res van die strooisuiker in ‘n pan en soteer die druiwe tot gekarameliseerd. Voeg die res van die brandewyn en die geweekte rosyne by en maak deurwarm. Sit die rosyntjiemengsel appart saam met die ryspoeding voor of dit kan in die ryspoeding geroer word.

Resep uit Fire Water, uitgegee vir die SA Brandewynstigting deur Quivertree

Brandewyn se ‘back-story’

Ek is dol oor goeie ‘back stories’ en Suid-Afrikaanse brandewyn het die beste storie ooit: Kokke en brandewyn stap al sedert 1672 saam in Suid-Afrika , want dit was juis ‘n assistent-kok aan boord van ‘n Hollandse skip in Tafelbaai wat destyds ons land se eerste brandewyn van plaaslike wyn gestook het. Dié rowwe seeman se rowwe brousel was egter wêrelde verwyder van die uitstekende brandewyn wat kokke en fynproe-drinkers vandag kan geniet.

Brandewyn hip, trendy EN nostalgies

Retro-kos en die nostalgie-gier laat die belangstelling in ou Kaapse geregte met brandewyn herleef. Dis hoekom ek dankbaar is ek het die  Brandewyn-Gildelid Magdaleen van Wyk se boek ‘Kook met Brandewyn’ op my rak.Twee dekades na die boek die lig gesien het, laat dit steeds die lus om met brandewyn te kook vlamvat.  Sy moedig kokke aan om:

  •  carpaccio op te kikker met brandewyn, sojasous en olyfolie; 
  • lamsaal met ‘n glanslaag van brandewyn, heuning en appelliefie te bestryk;
  • Om Kaapse patats – gestoof in ‘n swartpot met botter, nartjieskil, kaneel, bruinsuiker en heuning – te bespat met brandewyn  net voor opdiening.  
  • Brandewyn-okkerneutroomys as smaakmaat vir die immergroen Kaapse brandewynpoeding.    

Soetsopies  

Die gasvrye ou Suid-Afrikaanse gebruik om ‘soetsopies’ met koffie voor te sit is iets om weer uit die kas uit te haal.  Vul jou spensrak aan met outydse boeremeisies (appelkose in brandewyn) tradisionele boerejongens (rosyne in brandewyn) of brandewyn-pruimedante te kry by plaasmarkte of maak jou eie. Bedien dit met koffie of sit dit voor saam met ‘n kaasbord.

Terloops, om ‘n tuisonthaal af te sluit is hierdie outydse lekkernye uitstekende pasmaats saam met bloukaas en brandewyn. Vir ‘n soeter noot is sjokolade, brandewyn en espresso ‘n wen-trio.   

 Brandewyn en kos

Om by die huis saam met vriende te kuier, is die ‘in’ ding. Rondspeel met kos en brandewyn-paring gee ’n nuwe angle aan in-eet. Om ‘n gereg met ‘n brandewyn te pas is makliker as wat jy dink. Werk met jou basisbestanddele soos byvoorbeeld die vleis en die sous; paar dit met die brandewyn en die res val in plek. Francois Ferreira (my Huiskok Glanskok partner) is ‘n lid van die SA Brandewyngilde en ken sy storie. Hy paar bv. ‘n mielie-en sampioen tarte tatin en uie-marmalade met Boplaas 8 Jaar oue potketel. Of vir iets meer avontuurliks bloukaas-roomys en droë perske salsa met ‘n glasie verkilde potketel brandewyn uit Ladismith.

Nic van Wyk, ook ‘n SA Brandewyn gildelid, bedien graag ‘n plaasstyl patee of dun snytjies salm (in brandewyn gekuur) op roosterbrood met kappertjiesade saam met solera brandewyn. Ook lekker met potketel- brandewyn is gestoofde vye in brandewynstroop met crème fraiche en biscotti; of – my gunsteling – sagopoeding met ‘n brandewyn- en vanieljeskuim.

Kitsgids vir brandewyn– en kosparing

Brandewyn pas goed by geregte wat:

-        ryk is in gewig, en met room of eiers gemaak is

-        ‘n inherente soetheid het, soos sekere kase, souse en nageregte

-        baie geurig is

  • Brandewyn is ‘n goeie alternatief tot wyn by kaas, soos:

-        ‘n elegante vrugtige potketelbrandewyn met bloukaas en groenvye

-        camembert of bokmelkkaas-souffle

-        sagte, romerige kaas soos mascarpone of ricotta

dsc_0844 Small

Kortpad klas in die glas 

Selfs diegene wie se kosmaakvaardighede aan die skraal kant is, kan hierdie winter hul hand waag aan ‘n brandewyn-skepping, soos om brandewyn warm met lemoenskil te bedien (eet donker sjokolade daarby) of ‘n warm sjokoladedrankie met brandrissie en brandewyn te geur.

{FINE BRANDY FUSION VIER VLOEIBARE GOUD IN KAAPSTAD} 

Fine Brandy Fusion is ’n luukse toonvenster van die land se beste brandewyne en die glansryke leefstyl wat daarmee saamkom, en vir sy Kaapse debuut spog die fees met die tema “Celebrate Liquid Gold”. Fine Brandy Fusion Sandton, wat vanjaar die 6de keer gehou word, word nog vanaand in die Kaapstad Konferenseiesentrum gehou en van 26-28 Junie 2013 weer in die Sandton-konferensiesentrum.

Daar sal heelwat te sien, doen, ruik en proe wees vir die jonges, byderwetses, gesofistikeerdes en fynproewers wat na dié glansryke vlagskip-geleentheid stroom om Suid-Afrika se internasionaal bekroonde brandewynbedryf van nader te leer ken. Fine Brandy Fusion is die volmaakte kruising tussen ‘n partytjie-animal en goeie leermeester en leerkurwe, en weerspieël brandewyn se prettige én verfynde kant met ’n eiesoortige mengsel van kulture en style.

Praktiese besonderhede

Fine Brandy Fusion, Kaapstad, 9-10 Mei, Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum

Tye: 17:30-21:30 (geen toegang ná 21:00)

Prys: R175 , wat ’n brandewyn-proeglas en ‘n boekie met drankie en koffie-koeponne insluit.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket of by die deur.

Geen besoekers onder 18 jaar word toegelaat nie.

www.brandyfusion.co.za

Twitter: @BrandyFusion / #brandyfusion

Facebook: www.facebook.com/finebrandyfusion

Grondboontjiebotter kry bevordering na gourmet-rang: toebroodjiepoeding + Donna se grondboontjiefudge.

26 Apr

Grondboontjiebotter het nou so grand geword, dat dit gourmet status verkry. Hierdie grondboontjiebotter-beheptheid is een van die uitvloeisels van die groot resessie wat ons almal na trooskos laat verlang.

Sagte fudge vir grondboontjiebotter smulpape

Sagte fudge vir grondboontjiebotter smulpape

Dis in hierdie tye nederige goed waarna ons hunker (alhoewel ‘n deftige sjef grondboontjiebotter saam met peperduur eendlewer voorsit!). Tog het grondboontjiebotter ‘n gevoel van weelde – die botterige rykheid, die neuterigheid en dan nog die kleur wat herinner aan toffie en ander karamel-lekkergoed. En, reken die kenners, grondboonbotter is ‘n gesonde vet, en beveel aan dat jy ‘n lepeltjie daarvan per dag kan inkry. Net een lepeltjie? Sjoe.

Donna Hay, ‘n Australiese kosheldin van my, het ook die groot grondboontjiebotter-koors en haar resepte vir soetgoed soos sjokolade bourbon cupcakes met grondboonbotter-versiersel; churros met grondboonbottersous; en self ‘n sjokolade fondant poeding – of te wel lawa poeding – met ‘n gesmelte sjok- en grondboonbotter hart klink knie-kantel lekker.

IMG_7506 Small

Ek het twee van haar resepte gekies wat beide die fynproewer en die kind in ons almal tevrede sal stel. Om dit dubbeld so lekker te maak het ek my jarelange vriendin Catherine Eybers van die blog Lemon and the Dachshund genooi om te kom saamkook. Was DIT nou ‘n lekkerte. Ons het oor skooldae gepraat, gestry oor wat die lekkerste is – gladde grondboontjiebotter of die growwe soort – en natuurlik hopeloos te veel gesmul!

Grondboontjiebotter en jêm toebroodjiepoeding

Ons onthou almal die grondboontjiebotter-en gouestroop toebroodjies van ons skooldae – toe was dit dalk nie die begeerlikste toebroodjies in die kosblik nie, maar as mens met grootmens-oë daarna kyk, was dit koningskos. Dan raak dit die simbool van sorglose kinderdae, van onskuld en van Ma se liefde. (Resep ietwat aangepas na my smaak)

Wat ek hou van hierdie weergae

Bedien 4
1/3 koppie growwe grondboonbotter
8 dik snye dag-oud witbrood
1/3 koppie frambooskonfyt
Botter, saggemaak, vir smeer
250 ml slagroom (whipping cream)
160 ml melk
3 eiers + 1 eiergeel
80 g strooisuiker
5 ml vanieljegeursel of sade van 1 vanieljepeul
Bruinsuiker (Demerera) vir sprinkel

Metode:

Voorverhit die oond tot 160 C.
Smeer twee snye met grondboontjiebotter aan die een kant en sit twee snye bo-op.
Smeer nou die ander twee snye met konfyt en plaas oorblywende twee snye bo-op.
Sny die korsies af, sny elke toebroodjie in 4 kleiner toebroodjies (dus blokkies, nie driehoeke). Botter elke mini-toebroodjie en pak in ‘n kleinerige oondvaste bak. (sowat 625 ml kapasiteit bak). Meng die room, melk, eiers en ekstra eiergeel, suiker en vanielje in ‘n bakkie en klits. Gooi dit geleidelik oor die brood en laat goed week vir 2 minute. Besprinkel die broodpoeding met die bruinsuiker.
Plaas die bak in ‘n oondpan. Vir die waterbad gooi genoeg kookwater tot halfpad van die poedingbak. Bak 40-50 minute tot net gaar. Haal uit en laat staan 10 minute voor bediening. Bedien met vla.
aaa klaar poeding resize IMG_7468 Small

Huiskok-wenk:
jy kan ook grondboontjiebotter-en konfyt op elke broodjie smeer.
Vervang die frambooskonfyt met enige konfyt van jou keuse, soos appelkoos. Donker konfyt lyk net meer treffend in die gebakte poeding.

Sagte grondboontjiebotter fudge

Sagte grondboontjiebotter fudge

Donna se Grondboontjie fudge

As jy mal is oor grondboontjiebotter sal jy hierdie sagte fudge verslind. 

Bedien 8 tot 10

Bestanddele

150 g ongesoute botter, opgekap
80 ml room (single of pouring cream)
1 ½ cups (390 g) gladde grondboonbotter
5 ml vanieljegeursel
2 ½ cups (400g) versiersuiker, gesif

Metode

Voer ‘n liggesmeerde vierkantige 20 cm bakpan met bakpapier uit. Hou eenkant.
Plaas die botter, room, grondboontjiebotter en vanielje in in medium kastrol oor matige hitte. Terwyl jy roer, laat kook tot die botter en grondboonbotter gesmelt het en die mengsel net begin opkook.
Plaas die versiersuiker in ‘n mengbak en gooi die grondboonbottermengsel bo-oor. Werk nou vinnig en meng dit goed deur en gooi dan in die voorbereide pan. Bedek met kleefvrye bakpapier, laat effe afkoel en laat in die yskas vir 2 ure tot geset. Sny in blokkies. Dit hou tot twee weke in die yskas.
Wenk: Om die fudge se bokant glad te kry, plaas kleefvrye bakpapier bo-op die fudge en druk ‘n 18 cm vierkantige koekpan bo-op om die oppervlakte mooi glad te maak.

*Foto’s deur Roxy Laker van Huiskok HQ

* Resep Bron: Donna Hay tydskrif April-Mei uitgawe. Die iPad-weergawe is sowat R35.

Catherine my grondboonbotter-kookmaat

Catherine my grondboonbotter-kookmaat

Dáái beroemde peerkoek met kardomom en wit sjokolade … en stingels

19 Apr

Ek’t my hart verloor op ‘n koek. Dit was liefde met die eerste oogopslag. ‘n Koek met stingeltjies, aards en ongekunsteld, sonder bollings versiersuiker en marsepeinrose.  Dis eintlik maar ‘n ‘pound cake’ – niks eksoties, klam en neuterig, dramaties en dubbel-gelaag nie.

Die koekboeke is vol van klassieke koeke wat almal by tye aan die bak gehad het. Ek het nooit die Swartwoudkoek-craze deurgemaak nie, ook nie die Sachertorte, die Hummingbird-koek, die St Honore of die Battenburgkoek-perd opgesaal nie. Ja wel, ons het almal wortelkoeke gebak, kaaskoeke, poppiesaadkoeke, koeke gemaak van lemoene wat eers vir ure kook en dan verpulp word; olyfoliekoeke; Rooi Fluweelkoeke…

Ek't gesorg vir skeppie ekstra beslag sodat ek 'n mini-koekie vir my kon maak.

Ek’t gesorg vir skeppie ekstra beslag sodat ek ‘n mini-koekie vir my kon maak.

Nou’s daar ‘n koek met stingels wat ek vermoed die koekbak-kringe gaan laat gons. En nee, dit kom nie uit Frankyk uit nie. Dis ook nie iets wat Nigella pronkbekkie gebak het nie. Geen bekende televisiesjef sit agter die aanhang nie. Dis ‘n hier-onbekende Amsterdammer, Yvette van Boven, wat die koek op die ‘map’ gesit het vandat dit op die voorblad van haar boek Homemade Winter verskyn. My nuuskierigheid oor die Hollandse kostoneel het my laat internet-paaie kruis met haar, haar koek en haar boek.

aa in pan gebak nice IMG_7103 Small

Ek voorspel almal wat dit sien sal dit wil dit bak. Ek wou. Ek weet jy sal ook wil.

Die kardomom-bedwelmde koek word in ‘n broodpan gebak met gestoofde pere wat stingel en al in die deeg gedruk word. Oor die klaar koek word gesmelte witsjokolade gedrup.  Wanneer jy die koek in dik skywe sny maak peersnytjie na peersnytjie sy gestileerde verskyning. Dit word bedien met speserye-wynstroop waarin die pere hulle warm bad gevat het.

snye op elsje platter

Smaak die koek so merkwaardig as wat dit lyk? Die antwoord is ja en nee. Net soos soos met ‘n Oscar-benoemde fliek jaag die hype mens se verwagtinge ver verby ‘n realistiese perk.

Sal ek dit weer maak? Ja, beslis. (ek het al drie gebak)

Sal ek dit my eie maak deur rond te speel met ander elemente? Nee, wat – dis perfek soos dit is.

Is die wit sjokolade bolaag nodig? (Die eerste keer het ek dit uitgelos). Op die oog af lyk dit na oordadigheid, maar ja. Die wit sjokoladelagie bring oemf aan die delikate pere.

Tyd sal wel leer of die peerkoek met kardomom en wit sjokolade (sy amptelike titel) in die geskiedenisboeke van bak en brou opgeneem gaan word; en of dit ‘n vlietende vlam in die pan is.

RESEP: PEERKOEK MET STINGELS

Daar’s sekerlik niks nuuts onder die son nie; en in alle waarskynlikheid word so ‘n koek al jare deur tannies en kranige bakmanne gemaak waar pere volop was. Maar laat ons nie die eer van Yvette en haar trefferkoek wegvat nie. Iewers in ‘n restaurantjie langs ‘n grag in Amsterdam het sy die koek ‘n wedergeboorte gegee, moontlik haar stempel daarop afgedruk.

Die bestanddele gee klaar die geheim weg! die klaar koek word met die speserye-wynsous bedien waarin die pere gekook het.

Die bestanddele gee klaar die geheim weg! die klaar koek word met die speserye-wynsous bedien waarin die pere gekook het.

Bestanddele vir Pere

3 medium ferm pere met stingels aan, geskil

1 bottel (750 ml) droë witwyn

1 ¼ koppie suiker

4 naeltjies

3 steranys

8 kardomom peule

2 kaneelstokkies

Metode

Posjeer eers die pere so:

Kombineer 1 bottel wit wyn, suiker,  naeltjies, steranys,  kardomompeule, kaneelstokke en ferm geskilde pere nog met hul stingel aan in kastrol en posjeer die pere saggies vir 30 minute. Die pere moet sag, maar nie pap gekook wees nie. Haal die pere uit en laat afkoel.

Voeg 2 koppies water by die stroop en kook af tot dit ‘n ligte stroop vorm.

Bestanddele vir die koek

200g botter

200g/250 ml suiker

4 eiers

200g / 325 ml bruismeel

15 ml fyn kardomom of  kaneel

Knippie sout

100 g wit sjokolade, opgekap

 Maak nou die koek so:

Voorverhit die oond tot 175°C.

Smeer ‘n 9 x 5 duim broodpan, voer uit met bakpapier en smeer die papier.

In ‘n groot mengbak, klop botter en suiker tot lig en romerig. Klits eiers een vir een by, klits deeglik voor die volgende een bygevoeg word.

In ‘n kleiner bakkie meng bruismeel, fyn kardomom (of fyn kaneel) en knippie sout. Sif dit oor die bottermengsel en vou in.  Gooi beslag in die pan, druk die pere met stingelkant na bo in die deeg. Bak 40 minute of tot toetspen skoon uitkom. Haal uit die oond, laat ‘n rukkie in die pan staan voor dit versigtig uitgekeer word. Laat afkoel.

Intussen, smelt die sjokolade in ‘n dubbelkoker, drup oor die koek en laat effe afkoel. Bedien snye met die peerstroop.

Roxy Laker, my kollega is 'n uitstekende fotograaf en lekker eter, maar nie juis lief om self te bak en brou nie, behalwe met die peerkoek - hier help vou sy die meel in die eier/suiker/botter mengsel in.

Roxy Laker, my kollega is ‘n uitstekende fotograaf en lekker eter, maar nie juis lief om self te bak en brou nie, behalwe met die peerkoek – hier help vou sy die meel in die eier/suiker/botter mengsel in.

Klets op twitter saam met my, Errieda du Toit, by @huiskok of skakel in by RSG Vrydagoggende net na 9:15 vm wanneer ek en my kosmaat Francois Ferreira op Huiskok Glanskok praat.

Sousmaats vir gestoofde kwepers – zabaglione en sagte nougat

12 Apr

Die storie van souse is ‘n ware ‘lelike-eendjie tot swaan’ sage vandat die Romeine dit gebruik om die natuurlike smaak van kos te verskans en walmpies te verskuil. Vandag is souse die opperheersers van die  smaakwêreld.

a gestoofde kwepers met sagte nougat  Beeld IMG_6396

‘n Lekker sous is egter nie net die domein van glanskokke nie. Op ons eie kulinêre kultuurwerf is daar self ‘n klomp souse wat koning kraai. Ook soet souse. Tog jammer dat die era van plastiekkos en die bokskultuur sy merk gelaat het; maar ek is nie op ‘n oorlogspad teen die pakkie-souse en gebokste vla nie. Elke kombuis het sy eie werklikheid, ritme en kosetiek. My pleidooi is wel om ‘n bietjie avonturier te speel – soos hier met ‘n paar eiers en ‘n paar ander alledaagse bestanddele in die rugsak.

My avontuur het ‘n draai gaan maak by die Italianers. Ek begin met ‘n sagte, loperige Italiaanse meringue sousie wat eintlik nougat in sousvorm is. Dan oor na zabaglione, ‘n sous wat deur die eeue gemaak is net met drie bestanddele: suiker (of heuning), wyn en eiergele.

Maak beide souse vir gestoofde kwepers, gestoofde pruime, gestoofde enigiets; maar ook vir vars vrugte – want die surigheid van vrugte is net waarvoor die soet sousies soek.

SAGTE NOUGAT MET GESTOOFDE KWEPERS EN STERANYS

Die soet sous – half-Italiaanse meringue en half-nougat – bedien Nic van Wyk, Kokkedoor-beoordelaar met gestoofde vrugte by Diemersdal. Temper die soet met ‘n paar skyfies Simonzola of ander sagte bloukaas. Ook baie lekker met gestoofde koejawels.

Maak 6-8 porsies

Nougat:

Bestanddele

3 eierwitte

125 g suiker

50 ml water

25g glukose (beskikbaar in poeiervorm by apteke)

225 g heuning

Metode

In ‘n menger, klits die eierwitte tot dit sagte pieke vorm en hou eenkant. Plaas die water, suiker en glukose in ‘n kastrol en kook tot die sagte bal stadium (112°C op suikertermometer). In ‘n aparte kastrol, kook die heuning ook tot sagte bal stadium (tussen 112-115°C op suikertermometer). Terwyl die menger loop, gooi die suikerstroop en die heuning by die eierwitte. Wees versigtig om die mengsel nie te oorklits nie. Die finale mengsel sal sag en skuimerig wees en sy vorm behou. Die mengsel verdik ietwat as dit afgekoel het.

Wenk: indien die mengsel na jou sin te loperig is week 10 ml gelatien in 20ml warm water; gooi eers ‘n paar lepels meringue-mengsel by die gelatien en meng dit dan by die meringue-mengsel.  Laat afkoel.

Wenk: Indien jy nie ‘n suiker-termometer (candy thermometer) het nie, gooi ‘n teelepel suikerstroop in ‘n glas koue water. Haal die suikerbal uit die water en druk tussen duim en voorvinger. Die balletjie moet sag en taaierig wees en maklik plat gedruk word.

Oondgestoofde kwepers met steranys

Bedien 6-8

Bestanddele

5 groot (7 klein) kwepers, geskil, gehalveer of in skywe, pitte en klokhuis verwyder

1 L water

1 kg suiker

4 steranys peule

Sap van een suurlemoen (opsioneel)

Metode

Voorverhit die oond na 160ºC. Plaas suiker, steranys en water in ‘n kastrol en bring tot kookpunt. Roer suurlemoensap by. Plaas die kwepers in ‘n oondvaste bak, bedek met suikerstroop (hou steranys in) en bedek met foelie. Bak sowat 2 ure tot die kwepers pienk word en sag is. Haal uit die oond en laat die kwepers afkoel in die stroop. Bedien. Die kwepers kan in gesteriliseerde flesse geplaas word; bedek met suikerstroop en seël.

Wenk: Die kwepers kan ook op die plaat gekook word: pleks van dit in die oond te bak, prut dit in die suikerstroop vir sowat 45-60 minute tot pienk en sag. Jy kan ook die kweperhelftes stowe en daarna in netjiese skywe sny.

a warm zabaglione met kwepers en bevrore frambose Beeld IMG_6469

PORT EIERSKUIMSOUS (ZABAGLIONE)

Ons begin by die uitspraak: Zah-bahl-YOH-nay. 

Die soet sussie van Hollandaise, noem Martha Holmberg, skrywer van Modern Sauces, hierdie Italiaanse sousie wat maklik en vinnig is om te maak. Dit bevat egter nie botter nie, bloot net eiergeel, suiker en soetwyn. Hier bedien ek dit warm met ingelegde kwepers en bevrore frambose. Bedien die sous ook op sy eie, oor roomys, of met savoiardi, oor vars vye – terwyl dit not warm is.

ZABAGLIONE

 Maak 300 ml (4-6 porsies)

 Bestanddele

4 eiergele

65 g suiker

75 ml soet gefortifiseerde wyn soos Marsala, Madeira of port

Voeg water 3 tot 5 cm diep in ‘n medium kastrol en plaas oor medium hitte. Plaas ‘n hittebestande glas-mengbak of vlekvrye staalbak in die kastrol sonder dat die bodem aan die water raak. Plaas eiergele en suiker in die bak en klits met ‘n handklitser (whisk) of elektriese handklitser teen medium-hoë spoed vir 1 minuut. Gooi die wyn by terwyl jy aanhou klits. Klits nou vinnig en verwyder enige van die eiergeel wat teen die kant van die bak vorm met ‘n rubber-spatula. Klits 4-5 minute met elektriese handklitser en 8-10 minute met handklitser.

Sodra die eiermengsel ‘n dik lint vorm aan die onderpunt van die klitser is dit reg. Haal van die kastrol af en klits 30 sekondes om die skuim te stabiliseer. Laat afkoel of bedien warm. Bedien verkieslik onmiddellik.

Wenk: die sous kan, indien dit werklik moet, sowat 30 minute teen baie lae hitte oor die kastrol water gehou word.

  • Errieda Du Toit is kosskrywer en inhoudsvervaardiger van Kyknet se realiteits- kookkompetisie Kokkedoor. Volg haar op Twitter @huiskok en luister op RSG Vrydae 9.15 vm. na Huiskok Glanskok.

{Die ware oorsprong van zabaglione – die Italiaansers stry steeds!}

Waar gebore? Ek het hierdie goeie beskrywing op die internet raakgeloop – en plaas dit woordelik so: (webwerf ITChefs)

In which part of Italy was zabaglione born? That’s very hard to determine. Its origins are controversial and various parts of Italy claim its paternity. No surprise, given the simplicity of the execution and the readiness of the ingredients (honey instead of sugar was perhaps the earliest formula) it’s quite possible that it was born in various places at more or less the same time. The direct ancestor of zabaglione, beaten fresh egg – sometimes, in the country, just laid – with sugar, a pinch of salt, lukewarm milk (or red wine), has been a part of life for Italian families of every region for centuries. Scores of children have regained health and strength thanks to this homemade natural vitamin and protein integrator, given to them by their mothers or grandmothers. While in some regions this “preparation” had its proper name, as arsumà in Val d’Aosta, or sapajean or sabajessa in Lombardy, in many others, it was called zabaglione or simply beaten eggs.

It’s interesting to note that in the basic recipe of this egg preparation there is wine. According to some authors, (see Alan Davidson, The Penguin Companion to Food, 2002), the prehistory of zabaglione, was a drink made of wine or beer thickened with egg yolks. Its name, during the ancient Roman Empire, was possibly ‘sabaium’, which in Illyria, the Western part of the Balkan Peninsula, meant beer.

Born in Florence? Or in Sicily?

Legends and scarce historic sources fix the birth date of zabaglione in the 16th century. Some, as the mentioned Alan Davidson, say that it was invented in Florence in the court of the Medici, however there is no evidence. It’s certain, though, that zabaglione was the base of some of the first gelati, otherwise ice-creams, an Italian invention that consequently travelled to France with Catherine de Medici and that chef Ruggeri who invented ice-cream.

It has been suggested that zabaglione has a Sicilian origin since the word is derived from the Sicilian word zabbina, which refers to the spume resulting from the boiling of milk for ricotta and roughly means to whip while boiling. Zabbina comes from the Arabic word zarb, meaning a kind of sweet milk made from the thick part of curdled milk – something similar to ricotta. Other authors have legitimated the Sicilian origins, as Waverley Root, who in The Food of Italy (1971) wrote that Sicilian migrants spread their zabaglione all around the world.

A recipe for making a “bono zambaglione” (good zabaglione) is contained in the Libro De Arte Coquinaria (Book of Culinary Art) by Maestro Martino da Como, otherwise known as Martino de’ Rossi, the first modern Italian cookery book, dated approximately 1465. “Get four eggs (just the yolks) and [...] a generous amount of sugar and cinnamon, and add some sweetish wine. If the mixture begins to smell like smoke, add a little water or lean broth. Cook in the same way as broth, stirring constantly with a spoon, and when it soils [the spoon, serve it in a cup]”. The soiling point is “when the mixture is so dense that it adheres to the wooden spoon”. The only problem with this recipe is that it appears only in the “original” of the Libro kept in the Municipal Library of Riva del Garda, which is believed to be only a copy of the authentic one in the U.S. Library of Congress.

In any case, the inclusion of zabaglione in the Maestro Martino collection of recipes could imply that the sweet was born in Lombardy, possibly in Milan. There is, indeed, at least one source that presents zabaglione with the same ingredients as in Martino’s recipe as a “Milanese specialty.” It’s the book La commare o riccoglitrice (Venice, 1595), a very successful treatie on midwifery written by doctor Scipione, the Dominican friar Girolamo Mercurio, who recommends zabaglione to people who had exhausting jobs or were debilitated, exactly as women who had recently given birth. On the gastronomic side, Mercurio explains that zabaglione is ready when it assumes “the thickness of the top of milk,” that is, the consistency of cream.

 

 

Braai hoendertjie in ‘n vyebad

30 Mar

Prins Albert is soos ‘n juweelkissie met baie lae – elke keer kom ek op nog ‘n heerlikheid af.

Vye is een van die skatte uit hierdie kontrei en omdat ek en Francois albei in die dorp is om agter die skerms te werk aan die verfilming van die kookprogram Kokkedoor – bring ek vye en ‘n hoenderjie in die pot. En nie net dit nie: omdat dit lekker warm kan word in die Karoo word hierdie hoendertjie in ‘n vyebad afgekoel.

Die inspirasie om gaar vleis in ‘n marinade-bad te geur kom van Maggie Beer van Australië. Haar boek ‘Maggie’s Kitchen’ staan in my kombuis bankvas langs my Leipold-boeke en Kook en Geniet.

a dubbeldoor hoender en vyebad

Dis hoe die geurbad werk: as jy enige vleis wat jy oor die kole of in riffelpan gaarmaak agterna in ‘n geurbad van olyfolie, bietjie verjuice of goeie asyn, bietjie suurlemoensap en kruie laat lê, gebeur smaak-wonderwerke. Dis soos ‘n agterstevoorom marinade –  baai die vleis daarin om die sappigheid wat dit tydens die gaarmaak verlore het, weer in te drink – en hope ekstra smaak terug in die vleis te sit.

Vir die hoender:

1 groot skrophoender of 3-4 klein spithoenderstjies of  poussins

150 g sagte botter

10 ml elk: gekapte roosmaryn, tiemie en suurlemoenskil

Sout en peper

Vlinder die hoender: sit dit borskant na onder op ‘n houtplank en knip met kombuissker oop aan beide kante van die rugbeen – druk dan met die palm van jou hand die hoendertjie effe plat. Vryf ‘n mengsel van botter en gekapte roosmaryn, tiemie en suurlemoenskil onder die vel en die buitekant van die hoendertjie; sout en peper  goed en braai dan die hoender oor die kole.

(As jy spatchcock hoenders gebruik, kan jy dit op ‘n baie warm riffelpan gaarmaak – halfpad deur die gaarmaakproses bedek jy  die hoendertjies met ‘n deksel of staalbak om ‘n oondjie oor die hoender te vorm.)

Vyebad:

6 baie ryp vye (jy kan ook Smyrna vye gebruik – laat week vooraf in verjuice of water)

3 takkies roosmaryn

Breë stroke suurlemoenskil van 1 suurlemoen, sny met ‘n groenteskiller af.

½ koppie goeie olyfolie – ek gebruik Prins Albert s’n)

Sout en peper

Plaas vye, roosmaryn, suurlemoenskil en olyfolie in ‘n vlak skottel waarin die gaar hoender kan pas. As die hoender van die kole af kom, sit dit borskant in die vyebad vir 10 minute. Bedien dan die hoender met van sy vye-badsous.

Luister gerus na Errieda du Toit (Huiskok) en Francois Ferreira (Glanskok) Vrydagoggend op RSG saam met omroeper Martelize Brink. Gesels ook saam met Errieda op Twitter    @huiskok of op Facebook

Suurlemoen-olyfolie vla sit lemon curd ore aan

22 Mar

Wie sou kon dink mens kan suurlemoenbotter (lemon curd) met olyfolie maak?

IMG_6185 Small

Doop sommer soetkoekies in die suurlemoen-0lyfolievla. Foto: Ian du Toit

Die anti-botter brigade gaan hande klap en smulpape ook, want die olyfolie gee ‘n heerlike vars, groen, amper sitroengras-agtige smaak daaraan.  Dit kan dalk misleidend wees om steeds van suurlemoenbotter te praat, en noem ek dit eerder suurlemoen-olyfolievla.

Die metode is ongewoon, maar doodmaklik en vinnig.  As jy ‘n bietjie wil uithang aan die onthaaltafel kan jy  suurlemoenpoffertjies en oondgedroogte suurlemoenringetjies daarby maak. Sit die suurlemoen- lyfolievla dan as doopsous voor.

SUURLEMOEN-OLYFOLIEVLA

(MET OF SONDER SUURLEMOENPOFFERTJIES EN OONDGEDROOGTE SUURLEMOENWIGGIES)

Bestanddele

3 eiers teen kamertemperatuur

125 ml suiker

125 ml suurlemoensap, deur siffie gegooi

½ t vanieljegeursel

30 ml suurlemoenskil

125 ml topgehalte Suid-Afrikaanse fyn olyfolie

Plaas die eiers, suiker, suurlemoensap, vanieljegeursel en suurlemoenskil in ‘n versapper en meng dit teen die hoogste spoed tot  lekker skuimerig,  sowat 1 minuut. Gooi die olie in ‘n baie dun straaltjie by terwyl jy aanhou meng. Plaas die mengsel in ‘n bak of kastrol oor sag kokende water (dubbelkoker) en roer tot dit ‘n dik vla vorm, amper soos mayonnaise.*

Die suurlemoen-olyfolievla hou drie dae in die yskas en dit kan met gemak gevries word.

Gebruike vir suurlemoen-olyfolievla

  • Dipper vir suurlemoenpoffertjies of blokkies vars vrugte
  • Toebroodjievulsel vir brioche-’French Toast’
  • Pavlova
  • Limoncello tiramisu
  • Smeer dit op brood of paasbolletjies
  • Gebruik as tertvulsel
  • Maak roomys
  • As ‘n tussenlaag vir ontbytmuesli met vrugte
  • In ‘n trifle
  • Saam met snytjies sponskoek, jogurtkoek of olyfolie-koek
  • Bedien met roomkaas en kraakbeskuitjies

*NOTA: As jy een van die gelukkige siele is wat ‘n Vitamix als-in-een versapper/voedselverwerker het, kan die vla net in die versapper gemaak word, sonder die dubbelkoker-stap (die draaiende lemme wek hitte op wat die vla ‘kook’.  As jy wil weet hoe, google Caroline J. Beck se ’6 minute- Meyer Lemon Olive Oil  Custard’ resep.

Maak ‘n suurlemoen-nagereg duisend: Bedien die suurlemoenvla met suurlemoenpoffertjies en oondgedroogte suurlemoenringetjies.

Droog suurlemoenskywe so:

1 groot suurlemoen, in 3 mm ringe gesny, pitte verwyder

15 ml strooisuiker

Voorverhit die oond tot 80°C. Plaas die suurlemoenringe op ‘n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is, sif die suiker oor albei kante en pak in ‘n enkellaag uit. Bak vir drie ure sonder om dit om te draai. Laat afkoel.

Suurlemoenpoffertjies

Fyn olyfolie, vir braai

190 ml meel

30 ml ligte bier

5 ml suiker

1 eierwit

6x 6 mm  suurlemoenwiggies, ontpit

62,5 ml strooisuiker

Gooi olie sowat 2,5 cm diep in ‘n klein swaarboomkastrol en verhit oor medium-hoë hitte tot 160 °C . Skep intussen 62,5 ml meel in ‘n plat bak en hou eenkant. Plaas die oorblywende meel, bier, gewone suiker en 75 ml (5 E)  water in ‘n medium mengbak; meng tot ‘n gladde beslag.

In ‘n aparte bak, klits eierwit tot stywe punte vorm. Vou die eierwit versigtig by die beslag in sonder om dit te veel te meng. Druk die suurlemoenwiggies liggies in die meel, dan in die beslag, laat oortollige beslag bietjie afdrup en braai  2 minute of tot goudbruin (draai een keer om). Dreineer op kombuispapier, besprinkel met strooisuiker en bedien warm met gedroogte suurlemoenringe en die  suurlemoen-olyfolievla as doopsous.

*Gek oor olywe, olyfolie, kosfeeste, die platteland en om uit die stad uit te kom? Besoek Prins Albert se Olyffees wat vir die 20ste keer op die pragtige Karoo-dorpie gehou word van 26 – 27 April. Skakel +27 (0)23 541-1366 vir navrae.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 180 other followers